20 jaar – Net glimlagtyd!

Category : Newsletter 2/2018

Op 1 Februarie 1999 het ek my praktykdeur by Netcare Moot Hospitaal te 18de Laan in Rietfontein geopen. Ek was vir tien jaar daar werksaam, waarna ek verhuis het na die huidige perseel te 18de Laan 536 in Rietfontein.

Terugskouend staan een ding soos ‘n paal bo water – nie een werksdag is soos ‘n ander nie! Dit was 20 jaar van saam met die pasiënte lag en huil, oomblikke van gedeelde trane en vreugde. En altyd bevredigend.

Soveel gebroke ouers wat moes hoor dat hul baba/peuter ‘n permanente gehoorverlies het en dan ‘n jaar of wat later trots kom vertel hoe goed boet of sus met die apparate regkom en selfs daarna vra as dit soggens nie gou genoeg in hul ore gesit word nie. Glimlagtyd!

‘n Mens raak geheg aan die pasiënte wat ons gereeld besoek en ons het al dikwels saam met die familie oor die heengaan van ‘n geliefde getreur. Wanneer die familie die pasiënt se gehoorapparate aan die praktyk skenk, kan dit weer aan iemand wat nie oor fondse beskik nie, gegee word. My beloning lê daarin as die pasiënt terugkom en opgewonde vertel dat hul vir die eerste keer in jare weer soggens die voëltjies kan hoor kwetter. Natuurlik is daar dié mense wat mor dat hulle hul wederhelf nou te goed kan hoor!

Wat ek deur die jare opgemerk het, is dat die ondersteuning en begrip van familie en vriende vir ‘n pasiënt met gehoorverlies baie belangrik is. Diegene wat positief benader en aangemoedig word, raak baie makliker daaraan gewoond om apparate te dra. Pasiënte is geneig om te gou moed op te gee as hulle nie regkom nie en hulle kom ook nie terug vir hul opvolg besoeke nie. Dikwels is daar net ‘n klein verstelling nodig, maar hoofsaak is die pasiënt se eie ingesteldheid. Hier is vasbyt die wagwoord. Eendag verstaan jy en jou apparate mekaar goed en jy wonder hoe jy ooit sonder hulle klaargekom het.

Natuurlik was die trek na my eie perseel ‘n hoogtepunt. Wat ‘n luukse om soveel ruimte te hê. Aangesien die pasiënte eintlik ‘familie’ word, is dit vir my lekker om hulle in ‘n gesellige atmosfeer te verwelkom waar hulle gerus kan wees dat hul voertuig veilig binne parkeer is. Hulle is ook welkom om in die tuin rond te stap terwyl hulle vir hul afspraak wag. Die kleintjies kan hulself in die speelkamer vermaak.

Nog ‘n hoogtepunt is die tegnologie wat elke jaar net meer vorder. Ek en my oudioloë het deur die jare hard gewerk om op hoogte te bly met ontwikkeling en vooruitgang in die veld van gehoorapparate. Vele kongresse en opleidingsessies is bygewoon, en honderde navorsingsartikels is deurgewerk! Daar was nog nooit so ‘n verskeidenheid gehoorapparate en bybehore beskikbaar soos nou nie. Werklik iets wat vir elkeen se gehoorvermoë geskik is.

Ek moet erken – toe ek begin dink het aan wat om hier te skryf, het ek besef dat die hoogtepunte die laagtepunte by verre oortref, en dit sou nie moontlik gewees het sonder my toegewyde personeel, lojale verwysende dokters en julle, my pasiënte nie.